Blomme 2023


Die Groenies het besluit om na die Weskus te gaan om na die lenteblomme te kyk. Wat, so is ons vertel, absoluut fantasties is hierdie jaar danksy baie reën. Effah het ingestem om oor te slaap en na die honde om te sien, so al wat oorgebly het, was om te pak en weswaarts te vertrek. Die honde het nie saamgestem dat dit 'n goeie idee was nie. Hulle het een kyk na die bagasie gegee en begin panick. Zola het 'n drol op die slaapkamervloer gelos. Anna het dit raakgetrap oor die slaapkamervloer versprei. Ons is so gou as moontlik weg. Die idee was om in die algemene rigting te gaan waar die blomme na bewering wonderlik blom.

So mik ons daarnatoe langs Route 62, nog altyd een van ons gunsteling paaie. Hoofsaaklik weens die berglandskappe net by Calitzdorp verby.

Tot ons verrassing, was die R62 opgetooi in lenteblomme.

'n Gawe begin..... Die R62 het ons laat goed voel. Bloemin goed. Soveel so dat ons besluit het om deur te druk tot in Langebaan. Dit het beteken dat ons eerste dag so 600km lank sal wees. Maar ons was vol gees, vrolik met geselsies oor die stuff wat twee 75 jariges interessant vind. Ons honde, ons twee, hoe morsig ek soms is as ek kook, of ons Montagu toe moet trek.... Anna het vir ons slaapplek gekry by die Langebaan Beach Towers op die strand.

Gladnie 'n vrot uitsig nie. Maar die son, o die son! Brand die blou dinges uit jou uit tot net voor dit ondergaan en dus is die stoep nie bruikbaar voor dan nie. Mooi sonsondergang maar, so besluit ons terstond, die Weskus is nie die plek vir 'n strandvakansie nie.

Lang dag en ons soek kos. Langebaan het wat voel soos 'n miljuisend eetplekke, met meeste spyskaarte dieselfe boring same old - Catch of the day, Calamari, Prawns, Steak, Burgers..... julle ken dit goed. Anna kry ene wat bietjie meer oorspronklik klink en ons gaan soek die Queen's Cottage Wood Fired eetplek. Daar gekom, bestel ons wyn (belangrik om die belangrike goete eerste uit die pad te kry) en kyk toe na die spyskaart. Anna word bleek. Als is gerook. Maar als. Tot die groente. Kort gesprek met die sjef en 'n ongerookte groentedis word belowe. In die mate wat dit ongerook kan wees siende dat dit op die kole berei sal word. Eindelik nie sleg nie. My beesfillet was fantasties.....

Dag twee. Die plan is om die Weskus Nasionale Park in te vaar om by Postberg uit te kom, heel op die punt. Dis waar die blomme is, word vertel.

Die pad deur die park oppad Postberg toe is mooi. Nou nie asemrowend nie, maar mooi. 'n Paar rotse hier.

En wit sand. Witste sand wat ons nog gesien het. As wit sand jou ding is, haas jou hiernatoe.

Eindelik by Postberg. Blomme is mooi, maar mens kan sien dat ons dalkies twee weke of so laat is. Vir elke blomsteel wat nog trots regop staan en sy blommetjie wys, is daar twee wat kop onderstebo die stryd teen die ouderdom verloor het. Nogtans pragtige plate blomme.

So het ons dan rustig deur die blomme gery. En besluit om die middag in die rigting van Citrusdal te ry. En daar ergens te slaap en dan besluit waarheen verder. So gedoen. Deur die Weskus se niks, waarvan daar nogals baie is, Velddrif, Piketberg, Eendekuil. Anna kry toe vir ons slaapplek naby Citrusdal by die Piekenierskloof Mountain Resort.

Nou nie in die fensie hotel self nie, maar in 'n chalet. Nietemin heel aanvaarbaar.

Aandete was vergeetbaar sleg. Broderige focaccio, kerrievis en nog iets wat ons nie kan onthou nie. Newwer maaind. Na 'n lekker slaap en vol planne wag daar nog 'n dag....

So, waarheen nou. 2 Opsies- noord na Vanrhijnsdorp of suid deur die Sederberge na iewers. Ek was nie lus vir 2 ure noord en dan weer 2 ure suid met dieselle pad nie. Veral gegewe dat ons weet dat die pad maar effe vervelig is. Ineenstemming - ons gaan suid. Maar eers Noord. Ek het die detail vir Anna gelos- dis hoe ons operate. Executive decision en dan doen sy die nodige...... Eers op tot by Clanwilliam en dan deur die berge af tot by Riebeeck-Kasteel.

So gaat ons toe voort - suidwaarts deur die Sederberge. 'n Great keuse- ons sien blomme en asemrowende landskappe.....

Baie tevrede twee siele wat uiteindelik in Riebeeck-Kasteel opeindig. 'n Klein dorpie met interessante winkeltjies en eetplekke - soort van 'n mini Franschhoek.

Ons gaan tuis by Gabriella's. Bosserig maar heel goed.

Aandete is by 'The Barn'. Ons bestel 'n 'Mediterranean Fish Stew', en vergeet totaal dat nie een van ons eintlik veel van gekookte of gestoomde vis hou nie. Algeheel vergeetbaar. En ons vergeet om 'n foto te neem.

Laaste stop op pad huistoe is by The Retreat at Groenfontein anderkant Calitzdorp. Draai links af in Calitzdorp en verby die Calitzdorp dam -

Met 'n kronkelgrondpaadjie tot by die Retreat. Vol pers blomme orals.

Ou plaashuis met ou kamers. Goed versorg, maar benodig ernstig 'n revamp.

Marie, die gasvrou, is doof en besef nie hoe hard sy praat nie. Sy ontvang ons baie vriendelik, maar baie luid. Vriendelike honde....

Aandete was om die tafel met haar en die ander gaste. Regte plaaskos. Gelukkig was sy stillerig....

En so was dit ons soektog na die weskus blomme. Die onverwagse ding is dat ons sulke mooi blomme op onverwagse plekke gevind het. Dalk moet mens partykeer sommer net gaan. En ontdek die mooie waar jy nie gedink het dit bestaan nie....